Martelize Kook!

by Cakebread December 22, 2017 0 comment
Want create site? Find Free WordPress Themes and plugins.

 

Ons ontmoet Martelize in die RSG Ateljee. Seker so 5 jaar terug terwyl ons promosie doen vir ons 4de kookboek, Markdag.

So lekker onderhoud, maklik gemaak deur haar borrelende geaardheid.

`n Jaar later is ons terug met Onthaal op Groot Skaal, die volgende jaar weer met EEN Pot Pan Bakplaat.

So tussendeur hierdie onderhoude, in daai oomblikke wanneer die advertensies speel, raak ons sommer goeie vriende.

Sy nooi ons af en toe in vir `n kospraatjie op die lug en ons begin haar gereeld raakloop op media geleenthede.

Altyd vriendelik, altyd vrolik, altyd vroulik.

Toe sy ons nader om die stylering van haar boek te doen, was dit `n dadelike en besliste `ja` van ons beide. Ons het voorheen nog nooit daaraan gedink om ander skrywers se boeke te help produseer nie, maar daar was geen twyfel by enig een van ons dat dit `n groot eer sou wees nie.

Met die talentvolle Myburgh Du Plessis agter die kamera  begin ons 2017 toe op die beste manier.  Tien dae van kook, skiet, gesels en lag, met goeie musiek in die agtergrond en `n lawende glasie laat middag om krag te kry vir die ure wat nog voor is.  Hard gewerk, maar nog harder gesmul want die resepte in Martelize Kook: Jy is Genooi! is heerlik deur die bank.

Ons is so trots dat ons saam met hierdie merkwaardige vrou kon werk en op die pragtige kookboek wat die resultaat is.

—————————————————————————————————————————-

Ons het Martelize gevra om ons 5×5 te voltooi. Soos altyd moes sy oorpresteer en 6 antwoord.

 

  1. Jy is bekend vir jou avonturlike lewe – watter 5 was hoogtepunte? 

Rwanda ,om tyd met die gorillas te spandeer en die “duisend” heuwels te ervaar.

Tanzanie vir die Masai Mara, Serengeti, Ngorongoro-krater en die pragtige mense.

Kajak na Robben-eiland.

Mini-helikopter vlug oor die see om walvisse te kyk.

Om elke dag regstreeks uit te saai. Dis ‘n daaglikse avontuur.

 

2. 5 boeke op jou bedkassie 

Karin Brynard “Onse Vaders”

Erns Grundling “Elders”

Die Bybel

Pumla Gobodo-Madikizela “Dare we Hope. Facing our Past to find a New Future”

Irna van Zyl “Moordvis”

 

3. As jy nog 5 resepte in boek kon plaas wat sou dit wees? 

Arancino (groot diepgebraaide risotto-balle met ragu en kaas binne-in)

Vis-tacos met al die “trimmings”

Aartappelbrood

Cannoli. ‘n Sisiliaanse nagereg. Diepgebraaide deeg-buisies gevul met ‘n romerige, soet ricotta vulsel

Die perfekte braaibroodjie

 

4. 5 goed wat jy vir jong M sou se? 

Waardeer die liggaam wat vir jou gegee is

Moet nooit daardie eerste sigaret rook nie

Moenie “tan” nie

Wees teenwoordig en geniet die genotvolle oomblikke.

Dink voor jy praat.

 

5. 5 goed wat jy beplan vir volgende jaar? 

My 40ste verjaarsdag in Brugge

Om ‘n boek klaar te skryf

‘n Kreatiewe jaar by die werk

Om mense te help om hul volle potensiaal te bereik

En natuurlik baie kooksessies

 

 

6. Wat jy geleer het met die skryf van hierdie boek? 

My palet is lief vir diversiteit

Ek is liewer vir kook as wat selfs ek oorspronklik gedink het.

Kwaliteit bestanddele bly bobaas

Om nuwe idees met vriende te deel is ‘n gunsteling tydverdryf

Dit is baie harde werk.


Mens kry nie altyd waarvoor jy vra nie. Hierdie was ons keuse vir die voorblad. Dalk net te pienk vir die rakke, maar steeds een van ons gunstelinge. Ons het selfs die ou stoof pienk geverf.


Hier is `n resep wat nie in die boek is nie.  Met die ontwerp van `n kookboek is daar altyd 1 of 2 wat agv die beperkte spasie dit nie maak nie. Hierdie een verdien wel om die lug te sien. Heerlik en pragtig, wat meer wil jy dan?

 

Heuningkoek met witsjokolade vulsel 

Koekbeslag:

350 g koekmeel (hou ekstra byderhand vir hantering van beslag)

200 g suiker

100 g gesmelte botter

60 ml heuning

3 groot geklitsde eiers

1 teelepel koeksoda

halwe teelepel bakpoeier

 

Smelt die botter en heuning saam en laat afkoel 

Sif die meel, koeksoda en bakpoeier saam 

Klits die eiers en suiker tot lig en romerig

Voeg alles bymekaar en roer deur

 

Verhit die oond 170 grade Celsius

 

Skep ’n tennisbalgrootte van die beslag op bakpapier op ’n bakplaat

Neem meel en sprinkel oor die deegroller en die deeg

Rol die deeg tot ’n halwe sentimeter dikte laag

Gebruik ’n 18 cm koekpannetjie of bord van dieselfde grootte, plaas liggies bo op die beslag en sny ’n sirkel vorm met ’n mes uit

 

Bak vir 5 – 7 minute tot dit net-net liggies bruin begin raak 

Herhaal die proses totdat die meelbeslag op is 

Laat afkoel

 

Vulsel:

200 ml room

200 g witsjokolade opgekap

1 vanielje-peul

150 g botter

250 ml versiersuiker 

 

Smelt die sjokolade met 100 ml van die room in ‘n pot oor kookwater, verwyder van die hitte en laat afkoel. Die pot se bodem moet nie aan die kookwater raak nie. 

Plaas die sjokolade-mengsel in die yskas om at te koel

Klits die botter, vanielje en versiersuiker tot lig en romerig

Voeg die sjokolade en roommengsel by die botter en versiersuiker mengsel, voeg die res van die room by en klits verder tot lig

 

Gebruik die brittle resep ( sonder grondbone) elders in die boek

 

Breek op in stukke (hou ’n paar stukke heel vir versiering) en slaan in ‘n plastieksak met koekroller fyn 

200 g rou amandels sonder die vel 

Kap die amandels fyn, rooster in ‘n pan tot ligbruin en meng met die fyn tameletjie/brittle

 

Plaas ‘n laag van die koek op ‘n bord, smeer ‘n cm vulsel laag, sprinkel laat neute en fyn tameletjie en herhaal proses tot die koeklae gebruik is en daar nog genoeg van die vulsel beskikbaar is om ’n laag bo op die koek te smeer.

Sprinkel ’n laaste laag amandels en tameletjie bo op die koek en gebruik stukke tameletjie vir versiering.


Hierdie een is wel in die boek. Absoluut perfek vir die vakansie by die see.

 

My ma se snoekpatee

1 mediumgroot snoek

olie

sout en peper na smaak

2 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml blatjang

15 ml appelkooskonfyt

10 ml Engelse mosterd

250 ml fyngekapte soetsuur agurkies

1 ui, baie fyn gekap

1 pakkie (40 g) pietersielie, fyngekap (verwyder die stingels)

250 ml mayonnaise

 

Verhit die oond tot 180 °C.

Plaas die snoek op ’n bakplaat of in ’n groot bak en smeer die snoek in met olie, sout en peper en die knoffel.

Bak dit in oond tot gaar, ongeveer 20 minute. Haal uit en laat afkoel.

Vlok die snoek en maak baie seker jy haal alle grate uit.

Voeg die res van die bestanddele by en meng.

Sit voor met vars brood.

 

Wenk: Indien jy onthaal, is dit altyd veilig om ’n klein nota op die tafel te plaas wat mense waarsku teen daardie graat wat jy misgekyk het.

 

 

 

 

Did you find apk for android? You can find new Free Android Games and apps.

You may also like

Leave a Comment

18 + 18 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!