Renette Vosloo- Ontbytsake 5×5

by Cakebread March 15, 2017 0 comment
Want create site? Find Free WordPress Themes and plugins.

Ons het die altyd vriendelike Renette Vosloo ontmoet op die stel van Kokkedoor  ( reeks ) waar sy `n deelnemer was.

Daarna het ons haar beter leer ken as die sjef op Mnet se Ontbytsake. Beide van ons het die geleentheid gehad om onlangs deel te wees van hierdie program. Ontbytsake is by verre die prettigste stel wat ons ooit betree het. Hulle neem Vrydae die program `lewendig` op. Die spul is duidelik almal goeie vriende en babbel heeltyd oor die gebeure van hulle week en bak poetse vir mekaar. Renette moet behoorlik kophou met haar kokery en sorg dat die ander haar nie van spoor af bring nie. Om op tv te kook is klaar senutergend genoeg sonder, maar sy dra altyd die ekstra `druk` van die klomp grapmakers met daai groot glimlag. Onoffisioneel is Renette ook die een wat ons krediteer met die begin van pop-up restaurante in SA.

Ons het met haar gesels en 5×5 vrae gestel. Aangeheg is ook haar Rooiwyn Pere wat sy gemaak het toe Mari-Louis op die program verskyn het, asook haar Mielieblom Melktert ter viering van ons nuwe boek, Die Suid-Afrikaanse Melktert Versameling.

Hier is die link na Mari-Louis se optrede, https://www.youtube.com/watch?v=VDt_dUjV2_M

 

5 prettige/vreemde goed wat al gebeur het agter die skerms

  1. `Dis rook, nie stoom nie`! Op Kokkedoor het ons sommer voor die skerm die stoompot laat brand.
  1. Oe hy is “hot” (ons wis nie die mikrofone is reeds aangeskakel nie… Kokkedoor).
  1. “Kan ons dit oordoen?” Autocue het gaan staan tydens `n Ontbytsake verfilming en Renette weet nie waaar sy is nie. Ek dag ons kan stop en oordoen in ‘n noodgeval….almal waai arms en wys nee!!!gan aan!!!     Darem het die satellietuitsending daai dag gefaal en kon hulle my blaps uitsny… Ek het daai sessie baie “kortgeknip” gelyk, maar is `n baie groot verleentheid gespaar!
  1. Die koek raak te pienk… Tydens die koekbak episode op Kokkedoor 1, kry ek maaskaas en nie roomkaas vir ons roomkaasversiersel en die goed raak net meer waterig soos ek versiersuiker byklits. Radeloos besluit ek en Jay om van die beetpuree wat in ons beet-wortelkoek ingegaan het, by die versiersel te meng. Oi. Bollywoodkoek anderkant uit.
  1. Dawie (Ontbytsake) is lief om sy teks se bladsye op te bondel en na my toe te gooi soos `n wafferse bouler en ek moet vang soos `n wafferse “fielder”. So beland sy een bolletjie netjies in `n pan sous, terwyl die kameras rol…hy vergeet soms wat om hom aangaan, die karnallie.

 

 

Vertel ons meer van jou gastehuis en supperclub 

 

  1. Die Rooitamatie Gastehuis en Supperclub is ‘n kanniedood tamatierankplant wat al van 2004 af saam met ons paadjies vat…Dit het begin by Red Tomato, Jan Harmsgat se Bistro in Hazelwood Pretoria. (Hier is ons binne 10 maande deur Beeld aangewys as Top Nuwe restaurant in Pretoria…Ons kon die besigheidsregte daar nie suksesvol deurkry nie…)Toe kom: Red Tomato @ Cape Connection, Red Tomato@Home (Food 24 het oor “my” geskryf as Suid Afrika se eerste “underground dining” plekkie…dit was hier rondom 2005/6); Red Tomato @ Pretoria Country Club,  Red Tomato @Patat restaurant in Kaapstad tot Red Tomato pop up in Stellenbosch.
  2. Na Kokkedoor het ons gevoel ons moet n nuwe blaadjie omslaan maar by die essensie van ons narratief bly…Toe is Rooitamatie ons nuwe troetelplantjie in die vorm van `n gastehuis naby 2 groot hospitale en ons hou “supperclub” vir privaatbesprekings of selfs “oop” restaurant aande.
  3. Ons gee net 4 en 5-gang etes en gaste bring hulle eie spogwyne, of selfs deesdae jenewer en “craft”- biere.
  4. Ons hou daarvan om ons kreatiwiteit in te span en so word daar vir elke bespreking of geleentheid as’t ware ‘n nuwe menu gebore. Ek hou van fynere kookkunsies en mooigoedjies, so ek leef my uit met voorgeregte en nageregte, terwyl Miele hou van vleiswerk…Van heerlike steaks in die ysterpan tot eend en kwartel is sy forte!
  5. Daar is vir ons geen groter bevrediging as om te sien hoe neem mense die kos af en hoe hulle by mekaar oor en weer proe en oe en a oor dit wat hulle voor hulle het nie…Ons sal seker nooit genoeg daarvan kan kry nie!

 

Wat is jou 5 vinnige lifehacks of supper hacks

  1. When in doubt, don’t. So ek “discard” maklik `n idee of “iets” of “iemand” as ek ‘n “knaag” erens voel… Aan die ander kant vergewe ek ook maklik, mits ek voel die oortreder erken sy fout. Anders bly die knaag sit.
  2. Se eers ja. Overgesetsynde, moenie vinnig “nee” se nie.
  3. Op enige musiek. Luister baie musiek. Tot laat in die aand. Dans op die stoep, al is dit alleen.
  4. Supper Hacks nr 1: Schnitzel.Tuisgemaak,in botter.(met ander woorde, braai dit stadig). Met kaassous in 2 bestanddele: Te veel goeie gehalte cheddarkaas, bietjie room. Daarby, gekookte aartappeltjies.
  5. Supper Hacks nr 2: Thai Groen kerrie. Hoender, tuisgemaakte kerriepasta: Gemmerwortel, vars koljander, knoffel, sojasous, olyfolie. Klappermelk net voor bediening. Basmatirys: ALTYD.

 

Jy het sulke oulike suksesvole kinders – gee raad aan die van ons wat nog jong kinders het.

Ek het n boekie gehad in die laat tagtigs (ek het hom nog steeds) Super Parents Super Children, deur Frances Kendal en Leon Rossouw. Die boek het my die pad gewys en ek het net my “gutt” gevolg daarna. Nee was nie `n woord wat baie in ons huis gebruik is nie. Dit was eerder, ja jy kan, maar onthou nou net (en dan is die moontlike gevolge bespreek) en dan het die kind self besluit. Klaar.So vanaf ongeveer 6 jaar oud al…

Wanneer tone of koppe gestamp is, was ons daar om saam die stukke op te tel en te besluit hoe vorentoe. Nooit ooit verwyt nie.

Ons is baie gekritiseer oor ons “oop” en “liberale” aanslag. Ook omdat ons die kinders in Engelse kleuterskole en Laerskole gehad het.

Ons kinders het gewerk. Oor hulle gekies het om te werk. As hule duur handelsmerkegoed wou he, het hulle borde aangedra daarvoor. Hulle het geleer hoe dit voel om baie geld te he, hoe dit voel om niks te he nie en die waarde aan hulle basse gevoel as hulle daai swaarverdiende geld ge”splash” het.

As hulle nie huiswerk gedoen het of geleer het nie, het hulle die gevolge aan hulle eie punte gesien.

As ek nie van iemand gehou het nie, het hulle self weliswaar gou uitgevind hoekom nie…

Wees altyd daar: in die middel van die dag, nag en in die klein ure van die oggende. Al kan jy netraadgee oor die foon, of gaan oplaai as dinge suid trek.

Ek wens ek het. meer fotos en videos geneem.Ons was nie kameramense nie en dis voor selfoontegnologie.

Ek wens ek het `n foto of `n haarlokkie van ons oorlede seuntjie, Emile, wat `n dag voor sy geboorte (ons derde kind) oorlede is, gehou.

Ek het wel talle briefies en selfgemaakte verjaardagkaartjies wat die mooiste woorde in het, in my bedkassie.

Een aand na `n woeste harde Sondgasessie in die restaurant (ons het almal baklei want die stress was erg daai dag en ons was moeg)…gaan ons pizza eet, want dit was ons Sondagaand “vergoeding” na harde werk.Toe ons almal gemeensaam saamsit, verklaar Gerhard, toe seker so 14,”This family is invinsible”.Mooiste woorde.

Mag ek `n aanhaling uit die boekie maak: (ek weet hierdie raak nou lank maar oor die onderwerp kan jy my nie maklik kortknip nie)

“..if children were raised by the sometimes revolutionary principles outlined in this book, the world would be populated with assertive, independant and confident young.They would understand that there is no such thing as a “free lunch” and that the responsibility for their success lies in their own hands”.

Hoe anders kan mens wees as “assertive” en “confident” en “independent”. Hoe gouer jy besef daar is niks gratis in die lewe nie en dat sukses binne jouself le, hoe gouer gaan jy vooruit.

Wat is jou wildste drome?

Om saam met Mielie `n kookhuisie by die see te he.

Om my lewensboek wat resepte sal bevat, geskryf te kry. (As my skrywersgrot in die Karoo kan wees, sal dit die cherry on top wees).

en die wildste ene van almal: Mielie speel in die senior toer professionele gholf, ek karring saam en kook in ander dele van die wereld!

 

My Top 5 enigiets

Gereg: La Madeleine (chef Daniel Leusch) se oester in skilferdeeg met Champagne Hollandaise en aspersiepuntjies.

Liedjie: Gert Vlok Nel se Epitaph

Bekende: Gordon Ramsay

Boek: The Life of Pi

Plek: Dappat se gat, Kogelbaai

Rooiwyn geposjeerde pere in skilferdeeg met Pinotage Sorbet en Olyfolie roomys

Olyfolie roomys :

1 blikkie kondensmelk

1 blikkie ingedampte melk

250 ml  klaargemaakte vanieljevla

250 ml langlewe room

100 ml  ekstra  Suiwer Olyfolie

Saadjies van 1 Vanielje peul (hou die peul)

5 ml Vanielje essens

2ml sout

 

Pinotage, Swartpeper en Bessie Sorbet

500 ml goeie Pinotage rooiwyn

200 ml suiker

15 ml vars gerasperde swartpeper

150 ml bessiekonfyt van jou keuse

 

Rooiwynpere:

500 ml rooiwyn

100 ml water

150 ml suiker

2 ml sout

1 kaneelstokkie

1 uitgetrapte vanieljepeul

1 takkie vars tiemie

4 ferm,  dog sagte ryp pere  afgeskil

 

1 pakkie egte botter skilferdeeg,  yskoud maar nie meer gevries nie

1 eier

witsuiker

 

So maak mens:

Meng die bestanddele vir die olyfolie roomys baie goed saam.  Klits dit vir ten minste 3 minute goed.  Gooi in ‘n vriesbare houer en  plaas in jou vrieskas.

 

Pinotage sorbet:

Meng die bestanddele alles saam met ‘n staaf menger goed.

Kook dit alles saam oor hoë  hitte totdat dit met ongeveer ‘n kwart ingedamp  het,  met ander woorde,  daar is ‘n driekwart oor.

Koel dit heeltemal af en plaas in die  vrieskas in ‘n vriesbare houer soos ‘n ou roomysbak. Oor die volgende 8 ure moet jy elke 4 ure dit met jou staafmenger opbreek en fyn maak,  dan weer vries.

 

Rooiwynpere:

Skil die pere af en meng al die bestanddele vir die posjeervloeistof. Kook die pere vir 15 minute en verwyder hulle uit die vloeistof.

Kook die vloeistof verder af tot stroop.

Wanneer die pere heeltemal afgekoel is (wenk: jy kan hul selfs yskaskoud laat word) :

Verhit die oond ‘n 180 Celcius

Sny die skilferdeeg in 8mm repies en draai elke peer in sirkels daarmee van onder na bo toe. Vorm ‘n blaar vir elk met van die oorblywende deeg.

Klits die eier met ‘n vurk.

Verf elkeen met eier en plak die blaartjie bo-aan vas,  verf dit ook met eier.  Sprinkel hulle goed met die witsuiker en plaas op ‘n gesmeerde bakplaat.

Bak vir 15 tot 20 minute,  totdat die deeg gaar en goudbruin is.

As dekorasie kan jy jong peertjies in suikerkaramel doop soos toffie appels en hulle met eetbare goudpoeier sprinkel.  Pragtige Kersfees nagereg!Bedien saam met ‘n skeppie van elk van die Olyfolie roomys en Pinotage Sorbet.

Mielieblom melktert met Klappermeel kors

Vir die kors:

1.5 koppie klappermeel ( kan ook amandelmeel gebruik)

Sout

2 eetlepels versiersuiker

100 g koue botter, in dobbelsteentjies gesny

1 ekstra groot eier

Klein bietjie yswater

Willow Creek Blood Orange geur olyfolie, om pannetjies te smeer

Bakboontjies en bakpapier

 

Vulsel

1.5 koppies volroom melk

1 kaneelstokkie

2 ekstra groot eiers, geskei

Halfkoppie versiersuiker

2 ml sout

Goeie vanieljepasta of saadjies van 1 peul

2 ml amandelgeursel

Halfkoppie room

Kwart koppie mielieblom (Maizena)

2 eetlepels botter

Ekstra gesifte versiersuiker en fyn pypkaneel

Vye en bessies vir garnering, of ander vrugte in seisoen as jy verkies

 

So maak mens;

Pols die klappermeel, sout en botter in jou voedselverwerker totdat dit ‘n growwe krummeltekstuur het.

Breek die eier by en pols weer.

Voeg 2 eetlepels yskoue water by en pols weer net n paar keer

 

Smeer jou losboom tertpan of individuele losboom tertpannetjies met Willow creek Blood Orange olyfolie.

Druk die deegkrummels met jou vingerpunte vas in die pan en om die kante.

Voer met bakpapier uit en vul met bakboontjies.

Bak in voorafverhitte oond net vir 8 minute by 190 grade Celcius

Laat rus tot benodig maar hou die oond op 190 grade aan.

 

Vulsel

Verhit die melk saam met jou kaneelstokkie tot net onder kookpunt en verwyder dan die kaneelstokkie.

Meng die room, eiergele, versiersuiker, mielieblom, vanielje en amandelgeursel goed.

Giet n bietjie van die warm melk by die mielieblom mengsel en roer goed deur, sodat dit n loperige mengsel vorm.

Roer die mengsel nou stadig by die warm melk oor lae hitte totdat dit n dik melkpap vorm.

Roer die botter by en laat afkoel tot kamertemperatuur.

Klits eierwitte goed styf en vou deur die melkpap.

Vul die tertkors met die melkpap en sprinkel mildelik met die versiersuiker en kaneel.

 

Bak groot tert by 190 Celsius vir 10minute en verlaag die temperatuur na net onder 180 en bak nog 15 minute.

Individuele tertjies bak 5 min by 190 en 10 tot 15 min by 180 grade

Garneer wanneer genoegsaam afgekoel met vars vrugte of geniet hom net so “nakend”!

Did you find apk for android? You can find new Free Android Games and apps.

You may also like

Leave a Comment