Arina Du Plessis en Gourmand Wenners

by Cakebread January 12, 2017 0 comment
Want create site? Find Free WordPress Themes and plugins.

 

Ons en Arina Du Plessis ( Kosredakteur Landbouweekblad) het so effe van `n mutual appreciation society` ding aan die gang. Ons werk duidelik ook graag met van dieselfde kosfotograwe.  Myburgh Du Plessis is einde laasjaar as die World Gourmand Cookbook Awards aangewys as die Nasionale Wenner Beste Fotografie vir sy werk aan Arina se mees onlangse boek, Plaaskos.

15698340_938988099534155_2786929621343112243_n

15626577_938988132867485_8620539610715702710_o

plaaskos

Ons skop juis 2017 af met Myburgh vir stylering vir geliefde RSG omroeper, Martelize Brink, se kookboek. Te mete aan die smul-lekker heerlike middagetes van die laaste paar dae gaan Martelize se resepte groot guns wen.

Ons het ook gister geleer dat ons EEN- Pot/Pan/Bakplaat Gourmand se Nasionale Wenner is in die kategorie Maklike Etes. Groot pluimpie en ons kan nie wag om te sien hoe dit in April gaan vaar op die Internasionale kompetisie nie.

780-cover-test-One

Maar terug na Arina- Ons eerste inskrywing vanjaar in ons vraelys aan mense in die kosbedryf wat ons inspireer.

Jou gunsteling kosbloggers/Instagrammers 

Ek geniet Instagram meer omdat dit vinnige at a glance inspirasie is. Plaaslike kos-instagrammers/bloggers is net so inspirerend soos die top internasionale name.

Van my gunsteling SA Instagrammers is:

@alidaryder

@thekatetin;

@marilouisguy

@claire_ferrandi_food_styling

@hanneskoegelenberg

@huisvroujana

Internasionaal:

@bonappetitmag

@five_o_clock79

@deliciousmag

@honestfoodmagazine

@deliciousaus

@donnahaymagazine

@local_milk

@_foodstories_

 

Jy het al so baie resepte geskiet – jou top 5

Dis onmoontlik vir my om net 5 te kies, so ek gee my top 5 (wat ek die graagste eet) uit my nuutste boek, Plaaskos.

  1. Appeltert met karamelstroop en geroosterde amandels
  2. Peer-en-roketslaai met groenbone en roomkaashappies
  3. Sagopoeding met kraaksuiker
  4. Die beste hoenderkerrie
  5. Melkkos-souffle

 

Jy het ook klein kindertjies soos ons- top tips vir kook vir kleintjies, skoolkos en waarheen om hulle uit te neem

My kinders is baie uiteenlopend in hulle kosvoorkeure. Die een eet net ‘n handvol spesifieke gunstelinge en bly getrou daaraan. Die ander een sal enigiets probeer en kondig gereeld aan dat sy nou klaar is met haar gunsteling soort kaas/pap/groente, dit nooit weer wil eet nie en wil aanbeweeg na iets anders. Dus is kosblik-kopsere maar deel van my lewe.

Ek probeer my bes om ‘n verskeidenheid pousekos in te pak en om dit gebalanseerd, aantreklik en interessant te hou. (Hulle is gelukkig nog klein genoeg dat ‘n broodjie wat in ‘n interessante vorm uitgedruk is, of vrugte wat op ‘n sosatiestokkie geryg word, hulle baie opgewonde maak.) Gelukkig het nie een van hulle my soettand gekry nie!

My gunsteling eetplekke en my kinders s‘n verskil op hierdie stadium hemelsbreed, maar daar is heelwat plekke waar die hele gesin lekker kuier (en waar daar vir almal se smaak iets op die spyskaart is).

Ons kuier graag in die wynlande. Tokara Delicatessen (Helshoogte Pas, Stellenbosch), Mont Marie (Blaauklippen Road, Stellenbsoch), Boschendal (Pniel/Franschhoek) is gesinsvriendelik en altyd lekker.

Die Arniston Hotel op Waenhuiskrans is een van ons gunsteling naweekwegbreekplekke. Kinders voel baie welkom daar, eet soos konings, en niks is te veel moeite vir die personeel nie.

 

Jy woon so baie bekendstellings by – wat is top 5 dinge wat jou daar kry/wat verpes jy?

Ek het weeklikse spertye, dus kan ek nie naastenby so veel bekendstellings en werksfunksies bywoon as wat ek wil nie, maar dit is altyd lekker om my roetine ‘n bietjie te breek.

  1. Die vooruitsig om ‘n talentvolle kosskrywer of sjef se skeppings te ervaar, sien en proe,
  2. Om van die eerstes te wees om meer van ‘n opwindende nuwe produk/restaurant/boek te siene te kry en
  3. Om kollegas en kosvriende daar raak te loop en op te vang met almal

is wat dit vir my ekstra lekker maak.

 

 

5 interessanthede wat ons nie van jou weet nie

(Dis eerder belaglikhede as interessanthede, maar here goes)

–          Ek versamel ou porselein, messegoed en nerf-af kombuisgoed.

–          Ek vermy soetrissies sover ek kan. Veral groen soetrissies is een van die min dinge wat ek glad nie eet nie.

–          As ek ‘n laaste maaltyd kon kies? Kreef met aioli

–          Ek is gek oor Bollywood-flieks.

–          Wat my die meeste op my senuwees maak is televisie-werk.


Hier is 3 van Arina se smullekker resepte uit Plaaskos. Ons het uiteraard die Karringmelkpoeding gekies om te toets. Hemels.

 

Karringmelkpoeding

karringmelkpoeding_pg144

 

 

Karringmelkpoeding

250 ml suiker

50 g botter

2 ekstragroot eiers

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

knippie sout

500 ml karringmelk

500 ml melk

 

gouestroop, vir voorsit

 

Voorverhit die oond tot 180 ˚C en smeer ’n middelslag-oondbak met botter. Verroom die suiker en botter tot lig en donsig en klits die eiers een vir een by. Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n aparte bak en hou eenkant. Meng die karringmelk en melk en roer die meel en die karringmelkmengsel om die beurt by die eiermengsel in. Eindig met die meel en klits tot glad. Giet die beslag in die voorbereide oondbak en bak vir sowat 40-45 minute tot ferm. Sit louwarm voor en bedruip met met ’n bietjie gouestroop.

 

Lewer 6 porsies.

Maak jou eie karringmelk deur sowat 90 ml witasyn of suurlemoensap by 500 ml vars melk te voeg. Klits dit liggies tot verdik, en gebruik dit dan in gebak.

 

Alles-in-een-frikkadelle

alles-in-een-frikkeldelle_pg82-small

 

 

Alles-in-een-frikkadelle

Frikkadelle is huiskos uit die boonste rakke, en hier maak ek dit sommer saam met al die bykos in een bak.

 

Frikkadelle

1 dik sny brood, verwerk tot krummels

500 g beesmaalvleis

500 g gemaalde varkvleis

1 ui, gerasper

10 ml fyn komyn

10 ml fyn koljander

5 ml sout

5 ml varsgemaalde swartpeper

15 ml gekapte vars pietersielie

 

Rys-en-tamatiesous

375 ml witrys

45 ml olyfolie

2 uie, gekap

2 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml tamatiepasta

2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties

375 ml water

sout, varsgemaalde swartpeper en suiker na smaak

 

1 rolletjie (100 g) bokmelkkaas, in 12 wieletjies gesny

vars pietersielie, om af te rond

 

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak goed met olyfolie. Meng al die bestanddele vir die frikkadelle, bedek en verkoel terwyl jy die res van die gereg voorberei. Skep die rys in die gesmeerde oondbak en versprei egalig.

 

Maak nou die tamatiesous:  Verhit die olie in ’n swaarboompan en braai die uie en knoffel daarin in tot die uie sag is. Voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die gekapte tamaties en water by. Verhit tot kookpunt en prut vir 10-12 minute. Geur met sout, peper en suiker na smaak. Skep die helfte van die tamatiesmoor oor die rys in die oondbak. Haal die frikkadelmengsel uit die yskas en vorm 12 ewe groot frikkadelle. Pak dit bo-op die rys-en-tamatiesmoor en skep die res van die tamatiesmoor bo-oor die frikkadelle. Bedek met tinfoelie en bak vir 40 minute. Haal die tinfoelie af en sit ’n stukkie bokmelkkaas bo-op elke frikkadel. Bak verder tot die kaas gesmelt, die sous dik en borrelend en die rys sag en gaar is. Strooi vars pietersielie oor en sit warm voor.

 

Lewer 6 groot porsies.

Hertzoggiekoek

hertzoggiekoek_pg54

 

Hertzoggiekoek

 

Hier kry ’n eenvoudige warmmelksponskoek die Hertzoggie-behandeling, wat dit mooi en spesiaal genoeg maak vir enige geleentheid.

 

Warmmelksponskoek

125 ml volroommelk

125 ml water

100 ml olie

4 ekstragroot eiers

375 ml suiker

10 ml vanieljegeursel

500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

knippie sout

 

Vulsel

1 blik (385 g) gekookte kondensmelk

180-250 ml gladde appelkooskonfyt

 

Klappermeringue

4 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur

450 ml strooisuiker

60 ml koue water

200 ml klapper, liggies gerooster

 

Voorverhit die oond tot 180 ˚C en smeer twee koekpanne van 20 cm liggies met olie. Voer uit met bakpapier en smeer weer. Verhit die melk, water en olie in ’n klein kastrolletjie tot kookpunt. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Klits intussen die eiers goed. Voeg die suiker lepel vir lepel by die eiers terwyl jy aanhou klits tot die mengsel liggeel en donsig is. Klits die vanieljegeursel by. Sif die meel, bakpoeier en sout in ’n aparte mengbak. Voeg die eiermengsel daarby en vou liggies in. Voeg die melkmengsel by en vou verder in tot ’n gladde beslag. Verdeel die beslag presies tussen die twee panne en bak vir 20-25 minute tot hoog uitgerys en strooikleurig. Haal uit die oond en laat die koeke vir ’n paar minute in die panne afkoel. Keer uit op ’n draadrak en laat afkoel tot kamertemperatuur.

 

Sny elke sponskoek in drie lae. Smeer ’n dun laag kondensmelk op vyf van die koeklae en dan ’n dun laag appelkooskonfyt bo-op die kondensmelk. Stapel die koeklae presies opmekaar met die ongesmeerde koeklaag bo-op. Verkoel die koek vir ongeveer 30 minute terwyl jy die klappermeringue maak.

 

Sit die eierwitte, suiker en koue water in ’n groot hittebestande mengbak en klits tot goed gemeng. Sit die bak oor ’n kastrol met ’n bietjie water wat liggies prut en klits met ’n elektriese klitser vir sowat 15 minute tot die mengsel stywe punte vorm. Laat afkoel en vou die geroosterde klapper daarby in. Bedek die hele koek met die klappermeringue en gebruik ’n gasbrander om die meringue liggies te skroei.

 

Lewer 18-20 porsies.

 

Did you find apk for android? You can find new Free Android Games and apps.

You may also like

Leave a Comment

eighteen + 11 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!