Errieda verjaar!!

by November 29, 2016 0 comment
Want create site? Find Free WordPress Themes and plugins.

Vandag verjaar Errieda. Ons wou eers dink oor hoe om `n paar beskrywende woorde aanmekaar te string oor hoe fabulous sy is, maar regtig,  sy het nou in die laaste paar weke oorgenoeg prys gehad met die bekendstelling van haar puik nuwe boek, Tuistafel. So al wat nodig is is` veels geluk Maatjie. Hoop die glasie bly vol! Verlede jaar het `n sak-en-as koek sin gemaak, vir hierdie jaar sal ons iets met bietjie meer sonskyn moet ontwerp.

Errieda was die eerste persoon wat ons genader het met ons plan vir ons kos-en-blomme meisie reeks wat hierdie week in VISI verskyn het.  Hier is nog `n paar fotos van haar op daardie dag.

 errieda6 errieda3 errieda2

 

En hier is ons 5×5 met Errieda oor die bekendstelling van Tuistafel.

5 disse wat deur Chef Nic gemaak is uit die boek:

  1. Asynrib oor die kole
  2. Petite lewerkoekies
  3. Ian se volgraanvrybood
  4. Piekelvis met saffraan-rosyntjiebrood
  5. Vars groenboontjie- en nektarienslaai

 

5 soetgoed op die koek-banket:

Uit die boek gebak deur Martjie Malan:

  1. Brandewynkoek met vrugtevariasies lemoen, aarbeie en pynappelmadeliefies (oondgedroogte pynappel)
  2. Onderstebo toffiepiesangkoek
  3. Streepblik vol gemmerkoekies met witsjokolade en pienk peperkorrels
  4. Outydse soetkoekies met amandelsplinters
  5. Deur Mari-Louis : donker, dramatiese tong-in-die-kies sak-en-askoekunnamed-2

 

5 Hoogtepunte

  • Dit gaan eers oor die mense aan my tafel, dan die kos. Soveel kleurvolle, interessante, vrydenkende, lekkerbek, skeppende mense, goeie geselskapmaats. Dat Roelien Booysen, grafiese kunstenaar wat Tuistafel se illustrasies gedoen en die konsepontwerp gedoen het, spesiaal van Taiwan af gekom het om die bekendstellings-tuistafel by te woon. En Ma Inez, die matriarg wat trots oor alles gewaak het, en my man Ian aan my sy.
  • Daar kon nie ‘n beter plek gewees het as Nerf-af, die hoekwinkeltjie in Durbanweg  nie. Die oudhede- en vintage winkeltjie van Serina Chambers het saamgespeel met die horde ou eettafels, stoele wat uit die dak uit hang, ou meelkiste, kombuiskaste, waterbankies, familieportrette, ou kristalkandelare, plaaskerse, outydse kombuisskale en mengbakke. Vir een aand was dit asof al die ou goed hul beste klere aangetrek het. Soveel tafels: tafels wat selfs bo-op tafels gestapel was. Mense kon heerlik tussen die pote deur met mekaar gesels, amper soos kinderdae wat ek onder die grootmense se voete onder die kombuistafel gespeel het terwyl kosgemaak word.
  • Die effek om ou goed te temper met moderne elemente soos die breekgoed van Diana Ferreira met hul Nordiese eenvoud – dit reflekteer my kosstyl ook.
  • ‘n Hoogtepunt was toe een van die gaste, die uitmuntende kunsfotograaf my ‘n paar dae later verras het met foto’s van die aand. Ek noem haar nou ‘n foto-forager, want sy het die aand behoorlik geforage vir spesiale oomblikke en vignettes.
  • Die klein verrassings soos die keramiekbord wat Ian Engelmohr van Patat Ontwerp by die ete aangebring het. Ek het aanvanklik die bord by hom geleen vir die ‘Groente-messie’ hoofstuk en dit met ‘n swaar hart teruggegee toe die boek klaar is. Om dit as geskenk weer terug te kry het my in trane gehad. Die bedagsaamheid en groothartigheid van my kosvriende! ‘n Ander verrassing was ‘n geurbossie van kruie en groente wat Mynhardt Joubert vir my gegee het, pleks van die gebruiklike blomme vir die gasvrou. Wat ons nie ge-eet het nie, het ek as steggies geplant.

 

5 interessanthede van die Espost- familie

  • My oupa (van pa se kant) was ‘n Italianer wat met my ouma Anna, ‘n Sandveld-meisie getrou het. Die reeks Villa Esposto wyne van Klawer Wynkelder eer my oupa Louis Theodore Espost vir sy aandeel met die bou van die kanaal. Sonder water sou daar nie wingerde in die droë kontrei ees nie.
  • My oupa van my ma se kant was ‘n sagmoedige skoolmeester met ‘n geheime passie vir kosmaak. Hy het ‘n klomp kookboekies met die hand uitgeskryf vir my ma se bruidskis.
  • Ons Esposte is ‘n raserige klomp aan tafel –praat gelyk en heftig met groot handgebare. Ek moes met Ian (nou my man) met die eerste kuier gerusstel ons nie kwaad vir mekaar nie. Seker maar die Italiaanse bloed.
  • Nie een van ons het my Ma Inez se musikaliteit nie; ons sing maar lekker vals en na jare van musieklesse nie verder as ‘Chopstix’ gekom nie.
  • Almal is kos- en wynmal. Theo, die oudste (aan wie die boek opgedra is) was ‘n legendariese winkelier van kos- en wynwinkels, my jongste broer Anton het die wynwinkel Wine Kollective op Riebeek Kasteel, met sy eie Santa Cecilia wynreeks. My broer Charlie (die stilletjie van ons 4 kinders) is die broodbakker onder ons. Ons is groot diereliefhebbers: my skoolhoof-pa het ‘n kleinhoewe gehad met skape; maar as hy die skape slaghuis toe moes vat het hy halfpad omgedraai.

 

5 kwotasies van vriende daar

“Dankie dat jy gedink het aan ons bierdrinkers met die koue Black Label”

“Dis ‘n fabulous re-unie van ou kosvriende”

“Ek moes Tupperware gebring het om van die eiervrugslaai huis toe te vat”

“Ek het al vergeet hoe cool: Bellville is / lewerkoekies is / doilies is /”

“Wat ‘n aand. Gevul met antieke stoele wat uit die dak hang, lieflike vriende, swart en wit foto’s, doilies, asynskaapribbetjie en ‘n rooi gestreepte koekblik vol soetkoekies.” (Anel Potgieter )

 

Did you find apk for android? You can find new Free Android Games and apps.

You may also like

Leave a Comment

12 + 8 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!